| Prospektus - Geskiedenis van CVO |
|
|
Tans bevind die Afrikanervolk hom weereens onder 'n volksvreemde owerheid wat ongetwyfeld sy eie plan vir die onderwys in die mou voer. Gevolglik bevind ons ons by die kruispad om ons óf daarin te berus en ons kinders daaraan uit te lewer, óf om vir ons kinders 'n nuwe tuiste te skep. Dit is nie die eerste keer dat ons volk voor hierdie keuse te staan kom nie. Reeds na 1820 het Lord Charles Somerset die "groothartige gebaar" gemaak om gratis onderwys aan te bied ... Terselfdertyd het hy egter die skole as werktuie van verengelsing begin aanwend. Ongeag hul armoede, het ons voorsate die geskenk van die hand gewys en begin met die daarstelling van privaat CNO skole, sodat die staatskole gekwyn het, terwyl die privaatskole gefloreer het. In die jare tussen 1830 - 1838 het die privaatskole vanaf 39 tot 94 toegeneem. Dieselfde verloop van sake het hom natuurlik weer na 1902 herhaal toe dit Lord Alfred Milner was wat die volk wou verengels. Vandag is verengelsing nie soseer die doel nie, maar wel die vorming van 'n nuwe veelrassige nasie. Met dit voor oë word dit onmoontlik om suiwer Christelik-volkseie onderwys in die staatskole te verseker soos wat dit in die verlede moontlik was. Gevolglik was daar weereens mense wat begin het om hulle te beywer vir 'n beweging vir Christelik-volkseie skole. Op 15 Maart 1989 is die Raad vir Christelik-volkseie onderwys gestig. Na baie werk is die CVO-grondslagdokument aan die Superintendent-generaal van Onderwys voorgelê en is daar op 12 November 1990 amptelik erkenning aan die CVO-beweging gegee. Sedert Januarie 1991 is met skoolstigtings begin. Teen 1998 was daar reeds sowat 60 CVO skole dwarsoor ons land. Stigting van nuwe CVO skole gaan landswyd steeds onverpoosd voort. (Kyk gerus by die BCVO se webwerf vir meer inligting oor die BCVO en ander skole in die BCVO familie.) Matrikulante van ons CVO-Skool het reeds aan die einde van 1995 en 1996 die Senior Sertifikaateksamen (matrikulasie-eksamen) met baie groot sukses afgelê. Die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO) - in vennootskap met die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys (VCHO) - ontwikkel vakfilosofieë en kurrikulums. Die BCVO is amptelik erken as eksamineringsliggaam deur die SA-Sertifiseringsraad (UMALUSI). Die BCVO-Eksamenraad reël die afneem, nasien en administrasie van die BCVO se Senior Sertifikaateksamen, wat vanaf einde 1997 by geakkrediteerde CVO-skole afgeneem word. Ons skoolverlaters pas goed aan en presteer waar hulle hulle na skool bevind. Die BCVO koördineer ook die skakeling tussen CVO-skole onderling en pak gemeenskaplike projekte aan. Voorbeelde van projekte wat reeds op hierdie wyse met groot sukses deurgevoer is, is nasionale koorkompetisies, kultuurdae en kunswedstryde, nasionale CVO-atletiekdae, streekatletiekbyeenkomste, wintersportdae ens. |


