Prospektus - Toelatingsbeleid en BCVO-lidmaatskap Afdruk

 

Lidmaatskap van die BCVO is verpligtend vir alle ouers wat toegelaat word as lede van CVO Skool Pretoria. CVO Skool Pretoria is in eie reg ook 'n lid van BCVO en het 'n diensooreenkoms met die BCVO as aparte artikel 21 maatskappy (sonder winsbejag) gesluit. Ledegeld van die BCVO is ingesluit by die skoolgeld en word deur die skool aan die BCVO oorbetaal as diensgeld vir dienste wat aan CVO-skole gelewer word per kind. CVO-skole wat geaffilieer is by die BCVO ontvang waardevolle ondersteunende dienste vanaf die eksamenraad, onderrigraad, kultuurraad en sportraad van die BCVO.

Keuring vir lidmaatskap van die BCVO geskied op grond van die onderskrywing van die grondslag van die BCVO. Die kern van die Grondslag word in die volgende toelatingsbeleid saamgevat, wat ook dien as keuringsinstrument by alle CVO skole. Slegs ouers wat die toelatingsbeleid ten volle onderskryf kan oorweeg word vir toelating tot CVO Skool Pretoria.



TOELATINGSBELEID VAN CHRISTELIK-VOLKSEIE SKOLE

1. Die Toelatingsbeleid van CVO-skole staan op twee grondbeginsels:
  1.1 Die Christelik-Protestantse geloof (Calvinisties-gereformeerd), gegrond op die Bybel en toegelig deur slegs die drie belydenisskrifte (Drie Formuliere van Eenheid) te wete die Heidelbergse Kategismus, Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls.
  1.2 Die uitleef van die Afrikanerkultuur, in besonder die kultuurbeskouing dat kultuur die gehoorsaamheid aan die Bybelse kultuuropdrag is en dat die Afrikaner se uitlewing daarvan onder andere vergestalt word in die Gelofte van Desember 1838 en die herbevestiging daarvan in Desember 1880.
2. Die Toelatingsbeleid is:
  2.1 Die skool laat slegs kinders as leerlinge toe wie se ouers die Christelik-protestantse geloofsoortuiging soos verwoord in die Drie Formuliere van Eenheid as persoonlike geloofsoortuiging bely en uitleef en dat alle ouers wel verbondsouers is.
  2.2 Dat die Doopbelofte as Verbondsgelofte ten volle deur ouers nagekom sal word en dat die kinders dienooreenkomstig ook in die skool volgens die Calvinisties-gereformeerde leer onderrig sal word, d.w.s. dat die onderwys daarvolgens ingerig sal word.
  2.3 Dat die voertaal en onderrigtaal van die skool Afrikaans sal wees en dat die kultuurgeskiedenis van die Afrikaner as taal- en kultuurgroep gedenk en eerbiedig moet word.
  2.4 Dat ouers punte 2.1, 2.2 en 2.3 moet onderskryf en aktief bevorder.
  2.5 Dat ouers gekeur en tot lede van die skoolvereniging toegelaat word op grond van voldoening aan die vereistes hierbo gemeld en slegs kinders van ouers wat as lede van die skoolvereniging toegelaat is tot die skool toegelaat word. Hierdie lidmaatskap van die ouers aan die skoolvereniging geld slegs vir die duur van een akademiese jaar en alle ouers moet jaarliks weer heraansoek doen vir lidmaatskap.
  2.6 Dat slegs kinders toegelaat word wat nie die dissipline en goeie orde van die skool sal ondermyn nie.
3. Verdere beleidsbepalings waaraan voldoen moet word is:
  3.1 Dat ouers die wettige bestuurs- en onderrigstrukture en kommunikasiekanale van die skool in terme van die skool se oprigtingsdokumente, aanvaar en te alle tye eerbiedig.
  3.2 Dat ouers en kinders hulle onderwerp aan die skoolreëls en landswette.
  3.3 Dat ouers alle finansiële verpligtinge soos deur die CVO-skool bepaal stiptelik sal nakom.
4. Aanstellingsvereistes vir onderwys- en administratiewe personeel
  Naas die vereiste akademiese en opvoedkundige kwalifikasies geld bogenoemde vereistes vir die toelating van ouers tot die skoolvereniging, mutatis mutandis vir die aanstelling van onderwys- en administratiewe personeel.
5. Definisie Bepalings
  "Volkseie" dui hier op die omvattende kultuur van die Afrikaner, m.a.w sy ganse geestelike besitting insluitend die Afrikaanse taal.
  "Ouers" omvat 'n verwysing na die kind se biologiese ouers, grootouers, persone by wie die kind in pleegsorg is of enige persoon onder wie se direkte beheer en toesig die kind geplaas is en wie deur die bestuur van die skoolvereniging gekeur en bevind word aan die beginsels voldoen en geag word die ouer van die kind te wees
  "Verbondsouers" is gelowige ouers wie se kinders gedoop is as teken daarvan dat hulle as verbondskinders ook in God se Genadeverbond ingesluit is.
  "Skoolvereniging" verwys afhangend van die bepaalde skool se gekose bestuursvorm, na die artikel 21-Maatskappy, Beslote Korporasie, Trust, Gemeenregtelike Vereniging of enige ander regsentiteit van watter aard ookal wat die betrokke CVO-skool bedryf.
  "CVO-Skool" verwys na 'n Christelik-Volkseie Skool wat die beginsels van die toelatingsbeleid soos hierbo uiteengesit streng toepas.
  "BCVO" verwys na die Beweging vir Christelik-Volkseie Onderwys wat as 'n Artikel 21-Maatskappy bedryf word.
Ek/ons die ondergetekendes bevestig deur die ondertekening van hierdie toelatingsbeleid dat:
  • Ek/ons die dokument in sy geheel bestudeer het en die inhoud daarvan verstaan.
  • Ek/ons die beginsels en waardes soos hierin uiteengesit volkome onderskryf as my persoonlike oortuiging, geloof en beginsels.
  • Ek/ons onderneem om onverwyld met die Direksie/Opvoedingsraad in verbinding te tree, indien ek my onderskrywing van bostaande toelatingsbeleid in heroorweging neem.

Dit word van elke ouer verwag om by aansoek voor gesprek met die toelatingskomitee die plegtige verklaring ter bevestiging van onvoorwaardelike instemming met die grondslag van die skool te onderteken.