Prospektus - Buitekurrikulêre Aktiwiteite Afdruk

SPORT

Sport word primêr ter wille van die opvoedkundige waarde beoefen. Deelname word beklemtoon en 'n oordrewe klem op kompetisie word vermy. Die skool skakel in by streeks- en landswye sportgeleenthede en kompetisies wat onderling tussen CVO-skole, onder beskerming van die BCVO, gereël word. Dit sluit in: atletiek, landloop, netbal en rugby, krieket en skaak.

KULTUUR

Afrikaner-feesdae word deur die skool herdenk. 'n Kultuuralmanak word jaarliks uitgegee deur die BCVO om belangrike dae en gebeurtenisse uit die geskiedenis van ons volk in herinnering te roep.

'n Verskeidenheid aktiwiteite word deur die loop van die jaar aangebied om kinders die geleentheid te bied om binne en buite skoolure kultuur te skep en uit te leef. Geleenthede vir individuele en groepsdeelname word geskep, byvoorbeeld kunswedstryde, boeredae, koorsang, tradisionele boeredanse, debatte, revue, operette en/of toneelaande. Die skool skakel ook in by streek- en landswye kunswedstryde en kultuurfeeste wat elke jaar vir CVO-skole onder beskerming van die BCVO-kultuurraad gereël word.

Uitstappies en opvoedkundige toere na geskiedkundige plekke vind elke jaar plaas en word, waar sinvol, gekombineer met sport -en kultuurgeleenthede.

VELDSKOOL EN LEIERSKAPSKAMP

Daar word jaarliks veldskole gereël vir die graad 7 en 10 leerlinge, asook leierskapskampe vir leiers uit graad 6 en 11.

ANDER BUITE-AKTIWITEITE:

AFRIKANERVOLKSKULTUURBEWEGING VIR DIE JEUG

Heelwat leerlinge neem op vrywillige grondslag deel en gee leiding in die plaaslike afdeling van die Afrikaner Volkskultuurbeweging.