| Prospektus - Dissiplinêre Kode |
|
|
Dit is ouers se primêre verantwoordelikheid om dissipline by hul kinders te kweek en te handhaaf ook ten opsigte van stiptelike nakoming van skoolreëls. Die aanvaarding van die skool se dissiplinêre kode, skoolreëls en omskrewe dissiplinêre prosesse deur alle ouers en leerlinge, is ‘n voorvereiste vir toelating. Die skriftelike uiteensetting van die goedgekeurde dissiplinêre kodes vir leerlinge, personeel en ouers word by inskrywing aan ouers beskikbaar gestel. Die skoolreëls is op navraag by die kantoor beskikbaar. Appèl teen die toepassing van dissipline moet die voorgeskrewe volgorde en proses volg - tot by die aangewese appèlkomitee indien nodig. Opstand teen wettige gesag of onwilligheid om dissiplinêre maatreëls te aanvaar, bv. deur afwykings van die voorgeskrewe proses, kan lei tot tydelike of permanente skorsing of uitsetting uit die skool. SKOOL- EN SPORTDRAGInligting oor die korrekte skooldrag en sportdrag is beskikbaar by die skoolkantoor. Die klere kan ook by die skoolkantoor aangekoop word. REIS EN VERBLYFOuers tref self onderling waar nodig losies- en reisreëlings vir hulle kinders. Die stigting van ’n skoolkoshuis word beoog, sodra kapitaalfondse dit moontlik maak. Bussies word op verskillende roetes deur Pretoria in die vooruitsig gestel soos wat kapitaal beskikbaar kom. ’n Groot aantal saamryklubs vir die vervoer van kinders na en van die skool word ook reeds bedryf op privaatinisiatief van groepe ouers, wat reiskoste onderling deel. Die ouervergadering het ook reeds besluit om ouers aan te moedig en te ondersteun om die inisiatief te neem om bykomende skoolbussies op roetes na en van die skool daar te stel. LEERLINGRAADDie skool het ‘n senior en ‘n junior leerlingraad wat onderskeidelik leiding neem by die hoërskool- en laerskool-afdelings. Kandidate vir die leerlingraad stel ‘n manifes saam, waarin hulle hulle onderneming teenoor die skool, mede-leerlinge en personeel uiteensit. Die verkiesing van die leerlingleiers vind plaas onder leiding van aangewese personeellede, wat as voogde vir die leerlingraad optree. Die hele personeel ondersteun die leerlingraad waar nodig met raad en daad in die uitvoering van hul pligte. Die leerlingraad kry geleentheid om leiding te gee aan hul mede-leerlinge, deur verantwoordelikheid vir sinvolle aktiwiteite te aanvaar. As 'n taak verrig moet word, moet die organisasie daarvan waar moontlik deur 'n lid van die leerlingraad onderneem word. 'n Leerlingraadslid tree nie net as toesighouer op nie, maar gee leiding en stel 'n goeie voorbeeld deur self ook deel te hê aan die uitvoering van die taak. Die leerlingrade tree ook gesamentlik op tydens algemene skoolfunksies, byeenkomste of gesamentlike aktiwiteite by die skool. |

