- Ons gee in ons skool en lewe die ereplek aan die Drie-enige God en Sy Woord. Ons glo dat die vrese van die Here die beginsel van wysheid is ( Spreuke 9:10).
- Ons streef al die Christelike lewensbeginsels, soos in God se Woord vervat, na en respekteer dit te alle tye.
- Ons onderneem om te woeker met die talente wat God aan ons toevertrou het en beywer ons om elke taak met hart en siel aan te pak om sodoende goeie rentmeesters te wees. (Matt 25:14-30 en Kol 3:17, 23)
- Ons streef daarna om die vrug van die Gees in ons lewe gestalte te gee, nl om: liefde; blydskap; vrede; lankmoedigheid; vriendelikheid; goedhartigheid; getrouheid en sagmoedigheid te handhaaf en ten volle uit te leef. (Gal 5:22)
- Ons is getrou aan ons taal, ons volk en ons land en sal altyd die tradisies en kultuur van ons volk in ere hou.
- Ons streef daarna om eerlik, opreg, hulpvaardig en getrou te wees (Fil 1:5, 8) en innerlike dissipline te ontwikkel. Ons woord sal altyd ons eer wees. (Kol 3:9 en Ef 4:25)
- Ons sal, deur getrou en lojaal te wees, ook in die klein dingetjies, daarna streef om die eer en goeie naam van ons skool te handhaaf en uit te bou, want 'n naam is verkiesliker as rykdom. (Spr 22:1)
- Ons streef na die bevordering en uitbouing van hartlike, spontane en goeie verhoudinge tussen die leerlinge, ouers en personeel van ons skool.
- Ons onderneem om ons skoolwerk en skoolplig eerste te stel en ons vrye tyd nuttig en tot God se eer te bestee.
- Ons streef daarna om ons opdrag om die Skepping te bewoon, te bewerk en te bewaar, tot in die kleinste deur te voer en daarom sal ons dus ook nie ons omgewing besoedel of beskadig nie. (Gen 1:28 en 1 Tim 4:12)
- Ons gehoorsaam en respekteer ons ouers en onderwysers en tree hoflik op teenoor alle mense. (Ex 20:12, Rom 12:9, 10)
|