Prospektus - Skoollied en -wapen Afdruk

SKOOLLIED


Ons dien die Here wat ons lei,
Hy sterk ons elke dag.
Ons wy onsself aan Hom deur Wie
ons alles kan vermag.

Ons anker bly die Woord van God,
dit sterk ons in ons stryd.
Geloof en hoop en liefde is
die einddoel van ons vlyt.

Ons sal werk
ons sal leef
tot die eer van onse Heer.
Eie land, eie volk
ons geloftes sal ons eer.

In die hoofstad van die ou Transvaal
handhaaf ons ons eie moedertaal.
Dìs ons strewe wat ons dra:
CVO Pretoria!


SKOOLWAPEN

CVO Pretoria Skoolwapen


DIE SIMBOLIEK VAN ONS SKOOLWAPEN

1. Kleure

Die kleure van die Vierkleur van Transvaal:

"Die rooi roep iedereen daartoe dat ons met ons bloed ons vryheid sal verdedig."

Die wit staan vir reinheid en suiwerheid en vertel aan die vyand dat ons alleen met die edelste bedoelings sal stry en dat ons ons bloed sal laat vloei vir die vryheid.

Die blou sien op na die hemel, die tentgordyn wat bo ons hoofde gespan is en dui aan dat die volk op God alleen vertrou.

Die groen is die simbool van hoop.

So beteken die kleure van die vlag dat ons vertrou, om met Gods hulp in reinheid en suiwerheid van bedoeling, ons vryheid te handhaaf en bid ons God dat geen menslike mag ons ooit dié vryheid sal ontneem nie".

2. Die swaelstertlas by die skildhoof is baie sterk - dit hang saam met geanker in God.

3. Die ankerkruis dui op vaste vertroue in Jesus Christus.

4. Die wawiel wys heen na ons volkseie heraldiek.

5. Die volkseie is ondergeskik aan die Christelike.

6. Die Woord van God is die enigste vaste anker.