Prospektus - Skoolorganisasie en -bestuur Afdruk

 

Die skool word bestuur as 'n geregistreerde Artikel 21 maatskappy - sonder winsbejag.

OUERVERGADERING

Die ouervergadering is die vergadering met die hoogste gesag. Bywoning van ouervergaderings is verpligtend vir alle ouers.

DIREKSIE / OPVOEDINGSRAAD (OR)

Die Voorsitter, Ondervoorsitter en nog 7 lede van die Direksie word jaarliks deur die ouers verkies en bestuur die skoolsake in samewerking met die onderwyspersoneel en die breë ouergemeenskap. Die Hoof en Senior-adjunkhoof dien ampshalwe op die Direksie. Direksie-lede dien as voorsitters van taakspanne. Die Maatskappybestuurder dien as sekretaris op die Direksie.

Drie bykomende lede kan ook as voorsitters of koördineerders van taakspanne gekoöpteer word om op die Direksie te dien op grond van hulle spesialiskundigheid, indien nodig. Die koöptering word op aanbeveling van die Direksie deur die ouers goedgekeur.

Die dag-tot-dag bestuur van die skool en opvoeding word deur die Hoof en personeel behartig. Sake waaroor die skoolhoof en personeel nie by magte is om oor te besluit nie en onmiddellike aandag verg, word na die Dagbestuur van die Direksie verwys.

Die dagbestuur van die Opvoedingsraad bestaan uit:

  • Voorsitter
  • Ondervoorsitter
  • Voorsitter:Finansies
  • Skoolhoof
  • Maatskappybestuurder

Ouervergaderings (ledevergadering) geskied kwartaalliks. Direksie vergaderings geskied maandeliks. Spesiale vergaderings van die Direksie en spesiale ouervergaderings kan geskeduleer word wanneer dringende sake voorval.

TAAKSPANNE

Taakspanvoorsitters of koördineerders word jaarliks deur die Direksie uit sy eie geledere aangewys. Alle ouers moet by ten minste een van die taakspanne inskakel. Aktiewe deelname aan en funksionering van die taakspanne verseker deurgaans 'n effektiewe en koste-doeltreffende CVO-Skoolmodel.

Die volgende taakspanne bestaan tans, maar kan uitgebrei of verminder word soos nodig op aanbeveling van die Direksie deur die ouervergadering:

  • Bemarking
  • Beveiliging en sekuriteit
  • Gesondheid
  • Finansies en administrasie
  • Fondsinsameling
  • Bevordering van Christelik Volkseie Uitnemende Onderwys
  • Instandhouding (geboue, fasiliteite, terrein en sportgronde)
  • Projekte (beplanning en implementering)
  • Sport en sportterrein

Die volgende administratiewe, akademiese en opvoedkundige aktiwiteite word deur die Maatskappybestuurder, Skoolhoof en Onderrigbestuurspan onderskeidelik, onder toesig van die Direksie, hanteer:

  • Administrasie
  • Onderrig- en Personeel-aangeleenthede
  • liggaamlike en Avontuuropvoeding (Sport en toere)

Taakspanne se werksterreine en werkswyses is geformuleer in elke taakspan se beleidsdokument, wat ook deur die taakspan op datum gehou word. Taakspanne rapporteer op gereelde basis hieroor, asook oor vordering met take aan die Direksie.


SKOOLKALENDER

VAKANSIES EN VAKANSIEDAE

Die skool volg weens praktiese oorwegings naastenby dieselfde skoolkalender as die staatskole in die omgewing. Godsdienstige vakansiedae met Christelike aard word eerbiedig. Op Volkseie herdenkingsdae word, waar moontlik, ons eie kultuurgeleenthede gereël. Die geleenthede wat deur volksvreemde vakansiedae geskep word, word benut as volwaardige skooldae (tensy die ouervergadering op aanbeveling van die Direksie vir 'n bepaalde vakansiedag 'n ander reëling tref).