| Prospektus - Skoolgelde en Finansiële reëlings |
|
|
SKOOLGELD Die skool poog om skoolgelde so laag moontlik te hou, sonder om die skool se selfstandigheid of onderrigstandaarde in gedrang te bring. Skoolgeld word deur die ouervergadering beraam vir die volgende jaar. Finale vasstelling van skoolgeld vind egter gedurende die eerste ouervergadering van die jaar plaas, vir huidige gesinne, op 'n vlak wat ten minste gelykbreek op die begroting moontlik maak. SKOOLGELDE VIR 2011
Die skoolgeld vir die res van die jaar sal by die eerste ouervergadering van elke jaar vasgestel word. Die skoolgeld sluit die BCVO-diensheffing per kind in. Skoolgelde word jaarliks hersien en word bepaal deur die aantal kinders in die skool sowel as die oorhoofse koste verbonde aan die skool. Skoolgeld is maandeliks vooruitbetaalbaar vir twaalf maande van die jaar. Matrikulante wat die Senior sertifikaateksamen wil aflê, betaal 'n eksamenfooi aan die BCVO Eksamenraad wat jaarliks deur die BCVO bepaal word. TOETREEGELD Vir die befondsing van kapitale uitgawes, of te wel, die daarstelling van fasiliteite (terrein, geboue, toerusting) word toetreegelde eenmalig by aansluiting van 'n gesin by die skool betaal.
As alternatief kan 'n rentevrye belegging van 'n bedrag gelykstaande aan minstens een jaar se skoolgeld by die skool belê word. Hierdie belegging is terugbetaalbaar na 'n minimum tydperk van vier jaar of wanneer die laaste kind in die gesin die skool verlaat. WERKSBEURTHEFFING Daar word van elke gesin verwag om ten minste 11 gesinswerksbeurte per jaar te voltooi. Indien omstandighede sodanig is dat 'n gesin nie werksbeurte kan bybring nie, kan 'n finansiële reëling alternatiewelik gemaak word, om die nodige instandhouding te verrig. AANKOOP VAN BOEKE, TOEBEHORE EN SKOOLKLERE Ouers is verantwoordelik vir die aankoop van boeke, persoonlike toebehore en toerusting, en skoolklere. Hergebruik van handboeke word ondersteun om koste vir ouers te verlaag. Handboeke is ook te huur by die kantoor. BEURSE EN ALTERNATIEWE BETALINGSWYSES In verdienstelike gevalle kan ouers die Direksie nader, met volle motivering, oor alternatiewe wyses om verpligtinge teenoor die skool na te kom of aansoek doen vir 'n beurs om 'n gedeelte van die skoolfooie te dek. Ouers word uitgenooi om sodra die behoefte ontstaan vroegtydig vertroulik met die Direksie in gesprek te tree oor alternatiewe metodes om hulle verpligtinge teenoor die skool ten volle na te kom. INVORDERINGSBELEID Skoolgelde moet tydig vereffen word, by wyse van debietorders of vooruitbetalings. In gevalle van omstandighede buite ouers se beheer moet onmiddellik met die skool in verbinding getree word, verkieslik per brief aan die Direksie. Agterstallige rekenings waarvoor nie betyds alternatiewe reëlings getref word nie, sal na 60 dae aan invorderaars oorhandig word vir invordering. Invorderingskoste is vir die rekening van die betrokke ouer en rente word maandeliks op agterstallige rekenings gehef. 'n Ouer wie se rekening nie volledig betaal is by die skool nie, verbeur sy stemreg tot tyd en wyl dit reggestel is. Kinders kan ook toelating tot eksamens geweier word en hulle rapporte kan terug gehou word. VRIENDE VAN CVO-SKOOL PRETORIA Ouers, grootouers, oud-leerlinge en vriende van huidige of toekomstige gesinne van die skool, wat die belange van ons skool op die hart dra, word hartlik uitgenooi om aan te sluit by ons baie aktiewe kring van "Vriende van CVO-Skool Pretoria". Deur u bydraes en kundigheid kan u help bou aan 'n grootse ideaal en trotse sieraad vir ons geloofs- en volksgemeenskap. Kontant- en boedelskenkings tot ons skool se kapitaal of beursfonds kan 'n groot bydrae lewer om gehalte-onderrig by 'n geloofs- en volksgebonde onafhanklike skool vir meer van ons mense toeganklik te maak. |

