| Prospektus - Toelating en Keuring |
|
|
Die skool is opgerig vir kinders van verbondsouers van die Afrikanervolk wat die Drie Formuliere van Eenheid as belydenisskrifte aanvaar. (Heidelbergse Kategismus, Dordtse Leerreëls en die Nederlandse Geloofsbelydenis.) Daar word van ouers verwag om die toelatingsbeleid van die BCVO te onderskryf en aansoek te doen om lidmaatskap van die BCVO. Die BCVO koördineer en bevorder die belange van lidskole en Christelik-volkseie Onderwys in die algemeen, deur die bedryf van byvoorbeeld die BCVO-matriekeindeksamen, BCVO-kultuur en -sportgeleenthede. Die koste verbonde aan hierdie dienste word by wyse van 'n heffing op skoolgelde deur skole oorbetaal. Geen bykomende lidmaatskapgeld word van ouers met kinders by BCVO-lidskole vereis nie. 'n Onderhoud word voor toelating met ouers gevoer om hulle te ontmoet en die geleentheid te gee om alle onduidelikhede uit te klaar. Kinders moet die ouers vergesel na die onderhoud met hul mees onlangse rapporte van skoolopleiding. 'n Gesprek met die skoolhoof oor vakke en die inpas van leerlinge is noodsaaklik. Aansoek vir hertoelating moet jaarliks ingedien word. Dit word van alle ouers verwag om die primêre verantwoordelikheid vir die opvoeding en dissipline van hulle kinders te aanvaar, aktief met die skool saam te werk, die waardestelsel soos uiteengesit in hierdie dokument te alle tye te handhaaf en by die skool in te skakel. Die aktiewe ondersteuning en opbouende deelname van ouers aan ouervergaderings en verskeie lopende projekte is onontbeerlik. Die vele projekte wat reeds met groot sukses voltooi is, kan alleen maar toegeskryf word aan die genade van God Drie-enig, wat deur die deelname van gemotiveerde ouers ons tot groot dinge in staat stel. Met elke unieke kundigheid, vermoë of hulp wat tot ons beskikking gestel word, bou ons ons skool so steeds verder uit! Die ouervergadering het besluit om 'n minimum van 11 gesinswerksbeurte van 4 uur te vereis van elke ouer. (Vir gewone gesinne behels dit dus arbeid of diens van 8 manuur deur volwassenes per werksbeurt.) Ouers wat weens bepaalde omstandighede verkies om hulle verpligtinge ten opsigte van werksbeurte op ander wyses as deur deelname aan die normale geskeduleerde werksbeurte na te kom, moet dit vooraf met die Direksie bespreek en ooreenkom. Enkele van die moontlikhede wat in hierdie verband genoem kan word, is vooraf goedgekeurde projekte wat by die huis op eie tyd gedoen kan word vir die skool, werk as lid van taakspanne of ander bydraes in belang van die skool. Alternatiewelik kan 'n finansiële reëling met die Direksie getref word, indien die ouers op geen wyse werksbeurte kan verrig nie. Die geldelike waarde van 'n werksbeurt word van tyd tot tyd deur die ouervergadering bepaal. Bevredigende reëlings vir die afhandeling van werksbeurtverpligtinge is noodsaaklik vir die instandhouding en uitbouing van die skoolterrein, geboue en fasiliteite, ten einde bekostigbare skoolgeld deurgaans te verseker. (Kyk by "Skoolgelde en Finansiële reëlings" vir besonderhede.) Die ouervergadering van November 2008 het egter besluit om vir 'n proeftydperk van 6 maande werksbeurte af te skaf, mits positiewe ouerbetrokkenheid steeds voldoende is. ‘n Finale besluit sal gedurende Mei 2009 geneem word. Ouers moet aan die einde van elke jaar aansoek doen vir hertoelating van hulle kinders vir die daaropvolgende jaar. Die doel met heraansoeke en opvolg-onderhoude is om die Direksie in staat te stel om behoorlik te beplan vir die nuwe jaar en om in gesprek te tree met ouers waar nodig. Hertoelating vind meestal plaas sonder 'n onderhoud. Aspekte wat tydens opvolgonderhoude ter sprake mag kom, is voldoening aan toelatingsvereistes, probleme wat ondervind mag word met ouerbetrokkenheid, deelname aan werksbeurte, finansiële reëlings, ens. Gevalle waar die omstandighede van 'n ouer sodanig verander dat hy/sy nie meer ten volle voldoen aan die toelatingsvereistes nie, word na die Direksie verwys vir herkeuring elke jaar en dit mag gebeur dat die betrokke ouers hul stemreg verloor. Die ouers sal nie toelating van hul kinders geweier word nie, tensy die veranderde omstandighede direk indruis teen die beginsels van die skool. Let op dat die klem op die keuring van ouers val. Kinders se optrede en gedrag word veral deur dissiplinêre maatreëls hanteer. Daar word egter daarop gelet dat kinders in hulle bepaalde situasie sal kan baat by die normale onderrigsituasie in die skool. Aansoekvorms vir toelating, is beskikbaar by die Maatskappybestuurder en moet na voltooiing by die kantoor ingehandig word, gemerk vir aandag van die Maatskappybestuurder. |


